• No results found

Die skool kon nie die taalprobleem van sommige skoolverlaters, wie se moedertaal Xhosa is, oplos nie. Hierdie leerders het gewoonlik in Graad 8 en 9 swak presteer en die siklus van swak akademiese prestasie, graadherhaling en uiteindelike skoolverlating is dan voortgesit.

Ná Graad 9 is leerders met Xhosa as moedertaal na ander skole verwys.

Oor die algemeen is daar ook nie skoolbeleid in plek om leerders wat die risiko loop om ’n skoolverlater te word, te probeer behou nie (cf 2.2.2.6). Dit was duidelik dat hierdie skool nie die probleem van skoolverlatings met erns bestuur nie.

die ouer te verkry rakende die kind se sosiale welstand tuis. Meer gereelde ouerkommunikasie asook die betrekking van ouers by skoolfunksies en sport kan dien as aanbeveling in hierdie verband. Gepaardgaande hiermee kan die metode van kommunikasie met die ouers ook hersien word, aangesien leerders nie altyd briewe by die huis afgee nie. Kommunikasie met ouers is ook belangrik, aangesien meer pull out of school-redes as push out of school-redes tot skoolverlatings uit die ondersoek geïdentifiseer was. Daar kan dus ’n struktuur geskep word waar daar meer persoonlike kontak met die ouers gemaak kan word. Vir hierdie doel kan daar meer as die minimum verpligte ouervergaderings gehou word om persoonlike kontak te bewerkstelling. Tydens sulke byeenkomste kan ouers gereeld opgevoed word om betrokke te raak by hul kinders se skoolwerk, aangesien dit aan die lig gekom het dat ’n gebrek aan ouerlike ondersteuning ook tot skoolverlatings kan lei.

Spesiale vergaderings kan met ouers van leerders wat die risiko loop om die skool te verlaat (en leerders), gereël word. Ouers wat sodanige vergaderings dan nie bywoon nie, behoort skriftelik aangespreek te word om hulle verantwoordelikheid teenoor hul kind na te kom. Die groep SMS-metode kan ook in hierdie geval van pas wees, aangesien die meeste van die ouers selfone besit. Alle vorme van ouerkommunikasie behoort gedokumenteer te word.

Die skool kan ook ’n struktuur in plek kry waar klasonderwysers die geleentheid gebied word om ouers tuis te besoek. Veral ouers (van leerders wat die risiko loop om die skool te verlaat) wat nie vergaderings bygewoon het nie, kan geteiken word. Die fokus moet sterk wees op ouers van Graad 10-leerders, aangesien die uitvalsyfer hier die grootste was, asook die leerders wat gereeld grade herhaal en hoë ouderdomme het. Vir hierdie doel behoort opvoeders toegelaat te word om in hul administratiewe periode ouers, wat tuis is en naby die skool bly, te besoek. Andersins behoort opvoeders die geleentheid gebied te word om tuisbesoeke onmiddellik ná skool (wanneer die leerders verdaag het) af te lê. Besoeke behoort ook veral ná skoolvakansies plaas te vind, aangesien baie leerders, volgens die ondersoek, ná skoolvakansies wegbly van die skool. Dit behoort dan die verantwoordelikheid van graadhoofde te wees om besoeke te monitor en terugvoering in die vorm van ’n verslag met die res van die graadgroep te deel.

Skoolverpleegkundiges kan meer gereeld met skoolmeisies gesels oor tienerswangerskap en gesinsbeplanning. Die rede hiervoor is omdat meer dogters as seuns die skool verlaat het en tienerswangerskap as pull out of school-rede, as die tweede meeste geïdentifiseer is. Die skool kan ook reël dat nieregeringsorganisasies (NRO) tydens Lewensoriënteringsperiodes

bewusmakingsprogramme aanbied. Slagoffers van vroeë skoolverlating as gevolg van vroeë swangerskap kan dan geleentheid gebied word om hul stories met die leerders te deel. Ouers behoort ook deur die skool aangemoedig te word om met hul kinders te gesels oor vroeë swangerskap. Die beskikbaarstelling van gesinsbeplanningsmiddele deur skoolverpleegkundiges word ten sterkste aanbeveel vir alle grade, aangesien die meeste skoolverlaters in Graad 8 meisies is en swangerskap die rede is vir alle Graad 12- skoolverlatings. Die beleid van die WKOD oor leerderswangerskap kan in die vorm van ’n werkswinkel deur skoolbestuur en opvoeders bespreek word om effektiewe implementasie te verseker. Hierdie stap is nodig aangesien hierdie beleid tans nie by die skool realiseer nie (cf 2.2.3.2).

’n Struktuur kan geskep word waar leerders hul persoonlike probleme en bekommernisse op ’n private manier kan uiter. Vir hierdie doel kan skoolsielkundiges, maatskaplike- en sosiale werkers meer effektief benut word. Dit beteken hulle kan meer toeganklik en beskikbaar wees vir leerders by die skool. ’n Spesiale briewebus kan ook op ’n strategiese plek in die skool geplaas word waarin leerders briefies oor hul probleme en bekommernisse kan plaas. Hierdie briefies behoort dan vertroulik deur die skool se jeugwerkster hanteer te word. Die Skoolbeheerraad kan ook betrek word indien dit nodig sou wees (cf 2.2.3).

Die skool kan die deelname van leerders aan kultuurorganisasies en sportkodes by die skool bevorder deur deelname aan ten minste een organisasie of sportkode verpligtend te maak. Sodanige deelname kan dissipline by leerders inskerp en help bou aan skooltrots en lojaliteit.

’n Strenger dissiplinêre beleid kan teen skoolbendes ingestel word, aangesien skoolbendes ander leerders intimideer en boelie. Dit is hier waar die Skoolbeheerraad ’n kritieke rol kan speel deur ’n houding van zero tolerance against school gangsters aan te neem. Die gedragskode van die skool kan ook meer effektief teen skoolbendes aangewend word.

Strenger beheermaatreëls behoort ook ingestel te word om leerders teen bendes van buite te beskerm. Vir hierdie doel kan blokhekke tydens periodes gesluit word en die Bambanani veiligheidswagte (sekuriteitswagte vanuit die gemeenskap wat deur die staat aangestel is) kan gedurende pouses meer sigbaar wees. Die streekpolisie kan ook meer gereeld genooi word om toepaslike en relevante inligting met betrekking tot intimidasie, aanranding en misdaad met leerders te deel.

Die ontwikkeling van ’n akademiese aksieplan, om leerders te ondersteun wat oor die algemeen swak presteer, behoort aandag te geniet. Dit is veral nodig omdat ouers ook hul bekommernis hieroor uitgespreek het en swak prestasie die grootste push out of school-rede was. Sodanige plan kan dan voortdurend geëvalueer word om die effektiwiteit daarvan te meet. Gereelde aanpassings kan ook aan so ’n plan gemaak word om gewenste uitkomste te bereik. Na-skool klasse, alternatiewe assessering, meer gereelde toetsing en verandering in onderwysstyl, kan nuttig vir hierdie doel aangewend word. Ondersteuning behoort nie net te fokus op sekere grade of vakke nie, maar moet van toepassing wees op alle leerders wat swak presteer (cf 2.2.2.1).

Inklusiewe onderwys kan ook geïmplementeer word om huidige leerders wat leerstoornisse soos lees- en skryfprobleme, spraakprobleme en sigprobleme het, te akomodeer. Dit is nodig omdat die studie aangedui het dat leerstoornisse ook tot skoolverlatings bygedra het. Die WKOD-beleid oor leerders met leerprobleme maak dit duidelik dat intervensie teenoor sodanige leerders toegepas moet word. Vir dié doel kan sommige opvoeders opgelei word om met hierdie leerders te werk, maar daar kan ook van eksterne deskundiges se hulp gebruik gemaak word om die leerders by te staan.

Die taalbeleid van die skool kan in lyn gebring word met die behoeftes van die skoolgemeenskap. Slegs leerders wat kwalifiseer in terme van hierdie beleid kan dan by die skool opgeneem word. Die aflê van ’n taaltoets deur alle Graad 8-leerders kan byvoorbeeld verpligtend wees voor registrasie. Leerders wat nie die vereiste uitkomste op grond van taal bereik nie, kan dan na ’n ander skool verwys word. Taalkwessies kan ook op streeksvlak deur skoolbestuurders bespreek word om uitruilings van leerders te bewerkstellig (cf 2.2.2.6).