• No results found

HOOFSTUK 3 LITERATUURSTUDIE

3.2 Teoretiese raamwerk

3.2.1 Metakognisie

Die term ‘kognisie’ verwys na die aksie of proses om kennis en insig te bekom deur denke, ervarings en sensoriese gewaarwordinge (Matlin, 2009:5). Wanneer ‘meta’ by kognisie gevoeg word, verwys die term ‘metakognisie’ na ‘verder as kognisie’. Daar word dus dikwels na metakognisie verwys as die denke oor die eie denkproses. Martinez (2006:696) wys egter daarop dat dit ‘n komplekse konsep is en dat dit belangrik is om die funksies van metakognisie te ondersoek.

Die term ‘metakognisie’ word dikwels met Flavell (aangehaal in Livingston, 1997:1) geassosieer. Volgens Livingston voer Flavell aan dat die term uit die volgende twee komponente bestaan, metakognitiewe kennis en metakognitiewe ervarings.

Die eerste komponent is dié van metakognitiewe kennis. Hierdie komponent verwys na kennis oor kognitiewe prosesse en kennis wat gebruik kan word om kognitiewe prosesse te beheer. Flavell (aangehaal in Livingston, 1997:1) verdeel metakognitiewe kennis verder in drie kategorieë. Hierdie kategorieë is kennis van ‘n persoon se veranderlikes, van taakveranderlikes en van strategieveranderlikes. Kennis van ‘n persoon se veranderlikes verwys na algemene kennis oor hoe mense leer en inligting verwerk, sowel as individuele kennis van 'n mens se eie leerproses. Die tweede kategorie, naamlik, die kennis van taakveranderlikes verwys na kennis oor die aard van die taak asook die verwerkingseise wat dit aan die individu stel. Laastens verwys kennis van strategieveranderlikes na kennis oor

HOOFSTUK 3: Literatuurstudie

beide kognitiewe en metakognitiewe strategieë waar en wanneer dit toepaslik is om sodanige strategieë te gebruik.

Die tweede komponent van metakognisie (Flavell, aangehaal in Livingston, 1997:1) is die metakognitiewe ervarings en/of beheer wat na die ervarings rakende huidige en voortdurende kognitiewe aktiwiteite verwys.

In lyn met die beskrywing van metakognitiewe kennis van strategieveranderlikes (Livingston, 1997:1) behels metakognisie, volgens Heyns (2007:59), ‘n aktiewe ingesteldheid en self- of metabewuste en selfregulerende vermoë tot

 waarneming,

 regulering (ordening),

 monitering en

 selfkorrigerende aanpassing of verandering van eie kognitiewe prosesse gedurende die denkgebeure of denkaktiwiteite.

Vacca (2002:192) gaan verder en identifiseer drie kategorieȅ wat aansluit by Flavell se beskrywings hierbo, naamlik selfkennis, taakkennis en selfmoniterings- en reguleringskennis.

Selfkennis verwys na kennis waaroor die student beskik rakende sy/haar lees- en leervermoëns, terwyl taakkennis na kennis verwys waaroor die student oor die leestaak en oor die toepaslike strategieë, wat nodig is tydens die leesproses, beskik. Selfmoniterings- en reguleringskennis verwys na die vermoë waaroor die student beskik om sy/haar eie leesproses te beoordeel en om van toepaslike regstellende strategieë gebruik te maak waar nodig.

Die komponent van metakognitiewe ervarings en/of beheer, soos hierbo bespreek, verwys na ‘n spesifieke tydperk waarbinne metakognisie plaasvind. Block en Pressley (2008:291) brei hierop uit en verduidelik dat dit verwys na die oomblik (die hier en die nou) asook na langtermynmetakognisie. Die skrywer verbind dan ook metakognisie met leesbegrip en wys daarop dat die belangrikste ‘in die oomblik’-metakognisie die bewus wees van of ‘n teks verstaan word al dan nie. Die omgekeerde is dan ook waar: Die student is bewus wanneer hy/sy nie die teks verstaan nie en dit dus nie sal onthou nie. Met verwysing na lees, sal die langtermynmetakognisie die kennis van leesbegripstategieë wees, maar ook die bewus wees daarvan dat goeie lesers strategieë bewustelik toepas. Alhoewel verduideliking en modellering van leesbegripstrategieë volgens hierdie skrywer die ontwikkeling van

HOOFSTUK 3: Literatuurstudie

metakognisie positief beïnvloed, vind die meeste ontwikkeling tydens die inoefening van hierdie strategieë gedurende die leesproses self plaas. Vacca (2002:192) trek ‘n verdere verband tussen metakognitiewe vaardighede en strategiese leer. Die skrywer is van mening dat metakognisie onder andere beteken om beheer te hê oor jou eie kognitiewe aktiwiteite.

In aansluiting by die bostaande beskrywing van die term ‘metakognisie’ verwys Block en Pressley (2008:291) verder na metakognisie as hoër-orde denke wat aktiewe beheer oor kognitiewe leerprosesse behels. Martinez (2006:697) brei uit op hierdie sienswyse en wys daarop dat metakognisie die belewing van en kennis oor eie kognitiewe prosesse behels. Dit verwys na bewustelike en outomatiese prosesse wat mekaar komplementeer binne die leerproses en behels voorts kritiese denkpatrone wat lei tot probleemoplossing. Binne hierdie beskrywing identifiseer die skrywer dus drie kategorieë binne metakognisie, naamlik metageheue en metabegrip, probleemoplossing en laastens kritiese denke.

Die kategorie, metageheue en metabegrip, hou verband met die verstaan van ‘n persoon se kennistoestand. Die leser is bewus daarvan dat hy of sy kennis kan herroep en ook of en tot watter mate hy/sy dit verstaan. Daar is wel voorbeelde waar die leser nie die korrekte afleiding maak oor sy/haar eie begrip nie. Martinez (2006:697) wys egter daarop dat, alhoewel nadelig, dit veel erger is wanneer ‘n leser glad nie bewus is van of hy/sy dit wat gelees word verstaan of nie, as wanneer die leser die verkeerde aanname maak oor wat begryp is al dan nie.

Die tweede kategorie binne die skrywer se bespreking van metakognisie, naamlik probleemoplossing, verwys na die proses wanneer ‘n persoon op soek is na ‘n oplossing terwyl die pad na die oplossing nog nie duidelik is nie (Martinez, 2006:697).

Laastens fokus die derde kategorie op kritiese denke. Kritiese denke kan verstaan word as die vermoë om die kwaliteit van idees te beoordeel. Martinez (2006:699) sien kritiese denke ook as deel van metakognisie: “... evaluation turned inward, especially turned toward our own ideas”. Volgens Cambourne (2002:37) is hierdie metakognitiewe evaluering inherent deel van die student se respons. Hulle evalueer hulself konstant wanneer hulle dit wat geleer word, bespreek, reflekteer en toepas.

In aansluiting by die beskrywing van kritiese denke hierbo, trek Block, Gambrell en Pressley (2002:291-305) ‘n verband tussen metakognisie en sosiale konstruktivisme, soos in 3.2.2 verder omskryf, in terme van die gedurige skep van betekenis. Die skrywers verduidelik dat, om die beste resultate in die ontwikkeling van metakognisie te kry, dit nodig is om

HOOFSTUK 3: Literatuurstudie

geleenthede te skep waar studente hul gebruik van strategieë kan deel met ander en daaroor kan reflekteer. Volgens die skrywers is die metakognitief-gesofistikeerde leser bewus daarvan dat begrip bevorder word deur aktief betrokke te wees by die leesproses. So

‘n leser

 weet dat dit wat gelees word met eie voorkennis verbind moet word,

 is bewus dat die goeie leser voorspel wat moontlik volgende mag gebeur,

 is bewus daarvan om vrae te vra terwyl hy/sy lees,

 stel idees in die teks visueel voor,

 som gedurig tydens lees op dit wat reeds gelees is,

 is bedag daarop dat dele moontlik verwarrend mag wees,

 weet hoe om regstellende strategieë, soos om weer te lees, te gebruik en

 ken leesbegripstrategieë, besef die waarde daarvan en gebruik dit gereeld (Block &

Pressley, 2008:291-305).

Vacca (2002:192) ondersteun bogenoemde sienswyse en meld dat goeie lesers metakognitief bewus en kundig is oor hul eie leesproses en verwoord dit soos volg: “They know what, how, when and why it is important to monitor what they are reading, and they know how to regulate their use of comprehension strategies” (Vacca 2002:192). Die verwysing na die regulering van die benutting van begripstrategieȅ sluit aan by die bespreking van konstruktivisme wat volg.

Aan die einde van hierdie hoofstuk sal ‘n opsomming van die begrippe wat sentraal staan tot elke afdeling of kernaspek van hierdie hoofstuk verskaf word. Funksionele elemente wat uit hierdie gedeelte na vore kom, is metakognitiewe kennis waaronder selfkennis, taakkennis en selfmoniterings- en reguleringskennis figureer, asook metakognitiewe ervarings en beheer wat na ervaring van kort- en langtermynkognisie, metageheue, metabegrip, evaluering en refleksie verwys.