• No results found

4.3 Ontleding en bespreking van data uit die vraelyste

4.3.4 Verspreiding van ouderdomme van skoolverlaters

4.3.5.2 Sub-kategorie: Push out of school-faktore

aanbeveel het om te gaan werk vir geld. Keen (1992:102) het bevind dat groepduk ’n sterker invloed het op die skoolverlater as ouers, opvoeders of maatskaplike werkers. Aan die anderkant het Lee & Miu-ling (2003:107) die stelling gemaak dat “most learners drop out of school because their peers have suggested this”.

Een respondent het aangedui dat hy by bendedrywighede betrokke geraak het en sodoende belangstelling in sy skoolwerk verloor het. Hy het onder druk van sy maats uiteindelik besluit om die skool te verlaat.

Graad 9 was, het erken dat haar gereelde “bunkery” en afwesigheid tot gevolg gehad het dat sy gereeld onderpresteer het en sodoende motivering vir die skool verloor het.

Uitgesit

Van die leerders wat die skool verlaat het, het drie (3=4%) aangedui dat hulle uitgesit was as gevolg van gereelde dissiplinêre probleme. Twee van hierdie leerders is weer deur plattelandse skole opgeneem. ’n Ander leerder was lank onder die indruk dat hy uitgesit was, maar was eintlik net vir vyf dae geskors. Hierdie leerder het net weggebly en nooit weer terug skool toe gekom nie.

Uitsetting is normaalweg nie ’n gereelde verskynsel nie, maar as gevolg van bendeverwante voorvalle by dié skool het dit die skool geen ander opsie gelaat nie. Die WKOD vereis in hul uitsettingsbeleid dat ’n skool wat leerders uitsit, te alle tye moet poog om sodanige leerders by ander skole geplaas te kry. Die doel is juis om te verhoed dat sodanige leerders dropouts word.

Voel onveilig by die skool

Van die groep skoolverlaters het vier (4=5%) van die respondente aangedui dat hulle die skool verlaat het omdat hulle onveilig voel. Een respondent het aangedui dat hy gereeld gedreig was en aan skool-bendelede “tax” (beskermgeld) moes betaal. Die data openbaar ook dat seuns gereeld deur ander geboelie word en dus bang voel om skool toe te gaan.

Een van die dogters het aangedui dat een van die skool-bendelede, haar forseer het om ’n verhouding met hom aan te gaan en haar selfs wou aanrand. Nog ’n meisie het aangedui dat ander meisies wat bevriend is met bendelede, gereeld kos en geld van haar eis. Een ander meisie het ook aangedui dat sy in ’n bakleiery betrokke was met een van die bendelede se meisies en te bang was om terug te gaan skool toe. Sy het geskryf dat sy nou lekker skool gaan by skool X op die platteland.

Die skool het sedert verlede jaar (2007) enorme voorvalle van bakleiery, wat skool- bendeverwant is, beleef. Van die skoolverlaters het ook in die vraelyste verwys na die voorval verlede jaar by die skool waar ’n leerder op die skoolterrein met ’n skêr doodgesteek is.

Dit is egter bemoedigend om te verneem dat leerders wat die skool as gevolg van onveiligheid verlaat, gewoonlik by ander skole gaan registreer. Die veiligheid van leerders by die skool is

’n kwessie wat tans streng deur die skool ondersoek word.

Graadherhaling

Onderprestasie en graadherhaling gaan hand aan hand en dit is die rede waarom ses (6=8%) skoolverlaters, wat die tweede meeste van die skoolverlatings verteenwoordig, onder hierdie kategorie aangemeld is. Die meeste skoolverlaters het aangedui dat hulle te veel grade herhaal het en motivering verloor het. Hulle meen dat hulle te oud geword het vir die graad en nie met jonger leerders in die klas oor die weg kon kom nie. In hierdie verband meen Scanlon en Mellard (2002:240) dat “learners who repeat grades become too old for their grades, and are uncomfortable in class, which makes them drop out of school”.

Hierdie fenomeen kom veral vroeg in die jaar voor aangesien van die respondente erken het dat hulle later skaam begin voel en liewer na ’n ander skool migreer omdat dit nog vroeg in die jaar is. Nie alle graadherhalers migreer egter na ander skole nie, aangesien sommige gesê het dat hulle moraal so laag gedaal het dat hulle besluit het om ’n werk te gaan soek.

Uit die data wil dit voorkom asof graadherhaling die eindproduk is van verskillende faktore.

Die data toon dat graadherhaling nie in isolasie as rede vir skoolverlating gesien moet word nie, maar met ander veranderlikes verbind moet word. Dit is duidelik dat die redes vir skoolverlating mekaar aanvul en dit is soms moeilik om jou vinger op een spesifieke rede te lê. Keen (1992:100) verduidelik dat “the causes of drop-out are often interrelated and intertwined, and some of them, such as poverty, have a ripple effect on others, since other factors which exhibit drop-out propensities are symptomatic of poverty”.

Weiering van gesag

Na aanleiding van die data uit die vraelyste het een (1=2%) seun, wat in Graad 11 was, aangedui dat hy die skool verlaat het omdat hy die gesag van die skool geweier het. In hierdie geval het die leerder geweier om weens dissiplinêre probleme voor die Beheerraad te verskyn.

Hierdie leerder het na vele skriftelike versoeke nooit by dissiplinêre verhore opgedaag nie en ook nooit na die skool teruggekeer nie. Ná 40 dae van aaneenlopende afwesigheid is hierdie leerder outomaties deur die skool onttrek. Hierdie skoolverlater het geskryf dat hy voel dat hy onregverdig voor die Beheerraad gedaag was en daarom geweier het om voor die Beheerraad te verskyn.

Taalprobleem

Hierdie skool was as ’n fokusskool vir Kuns en Kultuur geïdentifiseer en was daarom ook verplig om leerders wat Engelssprekend is, te registreer. Die gevolg is dat leerders met Xhosa as moedertaal by die skool opgeneem is, maar dat die meeste Engels as ’n tweede of selfs derde taal sou aanbied. Sodanige leerders kon nie na wense vorder nie, bloot omdat hulle nie Engels verstaan nie. Hierdie leerders het later die skool verlaat en weer by skole aangesluit waar hul moedertaal meer gehoor sou word. Hierdie groep verteenwoordig drie (3=4%) van die skoolverlatings, maar almal het aangedui dat hulle by ’n ander skool geregistreer het. Die skoolrekords toon dat hulle reeds vroeg in die jaar na die ander skole migreer het.